Monday, July 27, 2026

'n Historiese wrok lig sy kop soos 'n pofadder agter die besemkas

 --- Anneliese Burgess in 'n Wrok lê en wag soos 'n pofadder agter die besemkas, ..., Binne+Land, July 2026

Excerpts

'n Historiese wrok lig sy kop soos 'n pofadder agter die besemkas. Stadig, amper lui, maar die gif in jou are is net 'n tree, in die verkeerde rigting, ver. Ek ignoreer nou al weke die slang daar in die donker hoek, maak asof ek nie die dreigende gesuis hoor, soos 'n ou man op 'n ventilator. Die slang is knus en gemaklik in die bekende ou groef tussen kas en muur, nes dié ou wrok al dekades in die muurwerk van my lewe, en 'n paar ander vir wie ek lief is, lê.

. . . 

Wat my, met 'n lang ompad, terugbring by die wrok. Elke familie het 'n spesifieke argitektuur, maar dit is nie 'n geslote stelsel nie. Kinders word groot. Daar is huwelike en egskeidings en aangetroudes en aangelaptes wat met hulle eie ervarings en wonde die dinamika verander. Daar is liefde en afguns. Daar is vergifnis en vreugde. Ouers word oud en gaan oor na die hiernamaals. Die rolle in die argitektuur skuif. En dan is daar boonop ook altyd 'n paar ou koeie in 'n sloot – en 'n pofadder of twee agter 'n kas.

. . . 

Dit neem my drie weke om by dié besluit uit te kom: ek gaan van die pofadder wegstap – hom net daar los agter die kas. Die rol van die beskermer het te swaar geword om te dra. Ek wil vir 'n slag beskerm word.

En ek hou nie van slange nie.

Iemand anders gaan hom met 'n graaf moet doodslaan, of hom met die slangtang vang en in die veld vrylaat.

Dit gaan nie ek wees nie.