--- Piet Croucamp, in Die ontwrigting + Johannesburg kan mistroostig wees, Binne+Land 3 Jun 2025
Quote in context
Die mens se vermoë om irrasioneel te wees gee ons 'n voorsprong op emosielose kunsmatige intelligensie. Ons irrasionele instinkte het 'n verlangse verwantskap met intuïsie, is 'n huisvriend van samesweringsteorieë en het 'n nasaat in subjektiewe moraliteit. Hoe sal 'n algoritme van veranderlikes, netjies verpak in 'n voorspelbare frekwensie van ongekompliseerde verhoudings, ooit die mens kan verstaan as dit nie in staat is tot die irrasionele nie?
. . .
Almal betrokke by die vraagstuk van kunsmatige intelligensie en die akademie, herhaal dieselfde veronderstelling dat sinvolle intellektuele opleiding op kritiese denke, kreatiwiteit en insigryke introspeksie moet fokus. "Burnett se argument lees ook maar so," sê ek vir myself toe die Uber voor my nederige kaia in Melville stop. Maar ek weet wragtig nie of dit genoeg gaan wees nie.