In context:
Dis die tussen-inne wat tel, die gleuwe, die voeë en die voue, die kreukels, die epentese in woorde, die amperse epigrawe en die epiloë en die epitawe en die epsomsout, die insetsels en (tot ‘n mate) die byvoegsels.
Wat bly oor wanneer jy jou tussen wêrelde/ideologië/geskiedenisse/tale/stoele bevind ? Nog net beweging en ‘n absolute sin van syn. Oftewel, dat jy jou aanmekaar moet posisioneer. Die gat sal moet leer om van draad te hou.
Maar wat is die dissipline ? Hoe word dit gedoen ?
Dis om die fokus net effens te verskuif, om laterale visie te ontwikkel, om te hoor sonder om te luister in watter boom uit watter kloof die nagtegaal sing. Die beweging wat jy dan optel, die stoornis, is met verwysing na die sentrale fokuspunt, sê maar die doelwit, die bekende of die verwagte. Die betekenis…
Jy moet diffuus wees soos kladpapier. Die belange-hiërargie van wat jy waarneem moet ontdaan en ongedaan gemaak word.
The centre must no longer hold in order for new shapes to emerge.